Page 1 - DEKLARASIE VAN TAALREGTE | LOURENS PROKUREURS
P. 1
DEKLARASIE VAN TAALREGTE VAN SUID-AFRIKANERS
Hiermee verklaar ons, die burgers van Suid-Afrika, dat ons geregtig is op die
volgende taalregte en dat ons die vertroue uitspreek dat hierdie dokument
deur die Nasionale Regering kragtens artikel 234 van die Grondwet, as
handves van taalregte aanvaar sal word. Tussentyds doen ons ‘n beroep op
die staat en die privaatsektor om hierdie regte te respekteer en na te kom en
‘n spesiale beroep word op die howe gedoen om hierdie deklarasie te erken
as deel van ons geïmpliseerde grondwetlike regte.
Hierdie deklarasie het ten doel om die burgers van Suid-Afrika in te lig om met
vertroue hulle taalregte op te neem, op te eis en die een die ander se
taalregte te respekteer ten einde ‘n verdraagsame taalrespekterende
gemeenskap daar te stel.
Ons besef dat die hierinvermelde regte, insoverre dit op die staat en/of die
privaatsektor betrekking het, ‘n teenoorgestelde verpligting op hulle lê om
hierdie regte te respekteer en na te kom. Ons verklaar dat hierdie nie ‘n
geslote lys van taalregte is nie.
Ons vorder ons regte aangesien:
- Ons ervaar dat die nie-openlike gebruik van ons amptelike tale
rasskendend en grondwetbrekend is;
- die noodsaak bestaan vir duidelik gepresiseerde taalregte, wat
bevatlik en maklik toeganklik geformuleer is, want die interpretasie van
vae bepalings kan nie oorgelaat word aan die diskresie van
amptenare nie;